Vreemde spore in die woestyn

WOESTYNE het ’n vreemde bekoring. Vir die oningeligte lyk dit na ’n lewelose plek, maar eers as jy fyner begin kyk, begin jy ontdek hoe mense, diere en voëls hier op verbasende maniere kon aanpas om te oorleef.

My vakansie het bestaan uit twee helftes – eers ’n week lange besoek aan die Kgalagadi-oorgrenspark om weer ’n kykie te kry na die Kalahari-leeus en ander interessante natuurlewe.

Die plan was dat dit daarna moes opbou met ’n besoek aan die Namib. Die hoogtepunte sou ’n besoek aan die groot duine van Sossusvlei wees, en ’n uitstappie met ’n veldgids om die woestyn behoorlik te verken by Swakopmund.

Die oostewind het ongelukkig nie aan die kus saamgespeel nie. Die veldgids het sy uitstappie gekanselleer, en daar is naarstig na ’n alternatief gesoek. ’n Besoek aan die plaaslike slangpark was ’n skrale troos.

Swakopmund het deesdae lekker kuierplekke, maar ons het na die stilte van die woestyn verlang.
Dit was Fanie du Preez van Kuiseb Delta Adventures wat tot die redding gekom het. Sy kennis van die woestynlandskap het ons gou in vervoering gehad.
Die eerste kennismaking met vierwielmotorfietse was ook heel aangenaam. Du Preez is ’n bewaringsman, en almal volg in sy spore terwyl hy jou op ’n avontuurtog deur die Namib lei.

Die een oomblik is jy hoog op die kruin van ’n duin, en dan duik jy weer af na onder. As skoolgaan maar elke dag so opwindend kon wees!
Een van die vroue in ons groep was aanvanklik baie skrikkerig vir die rit. Du Preez het haar gevra om net agter hom te ry, en hy het haar gaandeweg gehelp totdat sy uiteindelik ook met groot selfvertroue teen die duine kon uitjaag.

Op Walvisbaai sal jy deesdae moeiliker ’n beter ambassadeur vir dié hawedorp vind as Du Preez, wat met deernis praat van “my plaas” X met verwysing na die groot sandwoestyn aan die rand van die dorp.

Die laaste paar jare het hy die woestyn hier deurkruis, en dit lyk asof niks sy fyn kennersoog ontwyk het nie. Kort-kort ontdek hy ook weer iets nuuts wat hy aan besoekers kan gaan wys.

Min vaardigheid is nodig om saam te kan ry, en oud en jonk kan meedoen. Elkeen kry ’n valhelm en ’n bril, al is die rit nie ’n wilde jaagtog nie.
Die belangrikste reël is om in die gids se spore te volg. Behalwe groter veiligheid, word die impak op die duine ook tot die minimum beperk en kan die spore ná die volgende sterk wind reeds weer verdwyn.

Die fietse wat gebruik word, is outomaties. Hulle hanteer baie maklik en die bestuurder bepaal self in ’n groot mate die pas waarteen gery word.
Die toere duur vier uur en word in die oggend aangebied omdat die wind gewoonlik in die middag waai.
Dit is wanneer Du Preez vir jou dinge begin uitwys dat die woestyn skielik lewe kry. Hy verduidelik hoe die verskillende duine aan hul vorms gekom het, en hoekom duine verskillende kleure het.

Daar is ook baie water onder die duine. Van dit word deur ’n uraanmyn by Swakopmund getap. Die watertafel moet fyn dopgehou word. As dit ’n kritieke vlak sou bereik, kan die seewater dit besoedel en ondrinkbaar maak. Daar is ook ’n duidelike skeidslyn waar die ondergrondse seewater en varswater ontmoet. Dit kon Du Preez ons duidelik wys aan die plantegroei op die oppervlak.

Van die vele hoogtepunte was kleibanke wat ons gids aan ons gaan wys het. Daar was ’n verskeidenheid wildspore: olifante, renosters, elande, buffels en roofdiere is eens hier aangetref, net ’n paar kilometer van die rand van die hawedorp.

“Die spore is nog nie versteen nie. Dit is ook moeilik om te sê hoe oud hulle is, en ek het hulle ontdek nadat die sandduine geskuif het,” het Du Preez vertel.

Kwaai reën het intussen reeds van hierdie kleibanke vernietig, maar ons gids het voorspel dat ander weer kan oopskuif soos die duine beweeg.
”Elke paar maande kan dit hier anders lyk,” vertel ons gids aan ons terwyl ons duinop en duinaf met ons fietse ry.

Van die diere wat steeds hier aangetref word, is jakkalse, gemsbokke, springbokke, bruinhiënas en volstruise. Jy kan ook ’n giftige slang soos die horingsman raakloop – maar hy is maar klein en smelt mooi met sy sandomgewing saam.

Skerpioene en woestyn-verkleurmannetjies is waarskynlik nog skaarser, maar as jy gelukkig is, word hulle ook raakgeloop.

Ou blyplekke van die Topnaars is aan ons uitgewys, asook die narraplante wat hulle tot vandag elke jaar in die woestyn oes. Ons moes ook self ’n narra proe.

Ons kon ook mensgeraamtes, ou krale en ander implemente van vorige inwoners van die gebied sien. Die verskillende akkedisse, voëls en ander natuurlewe kon ook van nader besigtig word.

Du Preez het ’n slag om met mense te werk, en hy leer jou vinnig ’n paar vaardighede met die vierwielmotorfiets. Teen die einde kon selfs die bangste ryers reeds met groot vertroue teen die hoë duine oprits en aan die ander kant afseil.

Ons eie toer was in ’n wintermaand en baie aangenaam. Die lug was darem droog genoeg om ’n bier ekstra lekker te laat smaak nadat jy weer afgesaal het.
Daar kan ook saam met Kuiseb Delta Adventures tot diep in die woestynlandskap gery word om daar te oornag.
Die Kuiseb se rivierloop word oorgesteek na die reusagtige rooi duine op hierdie tweedaagse toer. ’n Topnaar-nedersetting word aangedoen en huisvesting, stort en etes is ingesluit.

Ander toere wat Kuiseb Delta Adventures aanbied, is ’n besoek met 4x4-voertuie aan die “see van sand”, en een na Sandvishawe.
Op eersgenoemde word jy geneem na die Topnaars se tradisionele wonings. Daar word geskat dat hulle al so lank as 8 000 jaar hier in die Kuisebdelta woon.  

Dit kos R450 om saam met Kuiseb Delta Adventures die Namibwoestyn vier uur lank op ’n vierwielmotorfiets te verken. Sy webtuiste is www.kuisebonline.com.

Die grootte van die groepe word beperk en dit is belangrik om betyds te bespreek.

Kontakbesonderhede vir besprekings: telefoon/faks:  09264 642 02550, selfoon:  09264 811 282 580, e-pos: fanie@kuisebonline.com of
kda@iway.na .  Eben Human is ’n senior verslaggewer in Die Burger se sportredaksie.